() 8 OCT 2009
Meer as 70% van agente ondersteun die nuwe opleidingsbedeling vir die eiendomsagentskapbedryf en glo dit sal tot ‘n meer professionele en geloofwaardige bedryf lei.
‘n Nuwe opname toon egter dat sowat 23% van agente ook glo dat die nuwe vereistes rakende opleiding daartoe gaan lei dat die bedryf talle goeie agente gaan verloor omdat hulle nie na baie jare in suksesvolle bedryf eksamens wil aflê nie – en 8% het inderdaad reeds die bedryf verlaat of beplan om die bedryf in Januarie 2010 te verlaat wanneer die grasietydperk om die nuwe kwalifiskasies te verwerf, verstryk.
Maar, sê dr Willie Marais, nasionale president van die Instituut van Eiendomsagente (IEASA), die opname toon ook dat 64% van agente hulle reeds daartoe verbind het om aan die vereistes van die nuwe bedeling te voldoen, ondanks die aansienlike koste daaraan verbonde (R12 000 per agent) en die tyd wat dit in beslag neem.
“Dit is nie juis verrassend nie, omdat die meeste agente deeglik bewus is van die waarde wat verdere opleiding inhou. Die opname toon byvoorbeeld dat 78% van geregistreerde agente die Raad op Eiendomsagentskapaangeleenthede se eksamen geslaag het en dat nie minder nie as 90% bykomende interne beroepsopleiding of opleiding by ‘n eksterne opleidingsinstansie ondergaan het.
“Boonop begin die meeste agente hulle loopbaan op ‘n hoë opleidingsvlak. Die opname toon dat 94% gematrikuleer het en dat bykans die helfte (49%) ook ‘n tersiêre op nagraadse kwalifikasie verwerf het.”
Hy sê egter dat nuwe wetgewing rakende opleiding in die bedryf, gekoppel aan die dramatiese afname in die aantal agente die afgelope twee jaar, daarop dui dat dit toenemend ‘n uitdaging vir agentskappe gaan word op top agente te werf en te behou.
“Ons voorsien dat maatskappye se belegging in opleiding van agente vinnig sal moet styg en dat die koste daaraan verbonde sowel as mededingende vergoeding vir top agente druk op winsmarges gaan uitoefen. Agentskappe sal dus deeglik na hulle kostestrukture moet omsien.
“Dit gaan ook vir kleiner agentskappe moeilik word om nuwe kandidate te bekom en op te lei – maar dit beteken nie noodwendig die einde van kleiner agentskappe nie. Top agente se inkomstepotensiaal sal styg en na verwagting gaan baie van hulle ‘n eie onderneming in nismakte begin. Dit is ook nie onrealisties om te spekuleer dat die meeste agente steeds vir kleiner, onafhanklike agentskappe gaan werk nie, soos wat nou die geval is (74%).”
Die 2009 bedryfsopname, wat pas vrygestel is, is deur ‘n onafhanklike navorser met die steun van IEASA en Property24, sowel as die Raad op Eiendomsagentskapaangeleenthede (REAA) onderneem. Dit is die tweede opname van dié aard wat plaaslik onderneem is en volg op die een wat in 2004 gedoen is.
‘n Vraelys is aan 42 000 agente wat by die REAA geregistreer is, gestuur en het verskeie eienskappe van agente en agentskappe ondersoek, insluitende demografie, sakebedrywighede, benutting van tegnologie, sowel as vergoedingstrukture en hoewel deelname vrywillig was, het dit sterk reaksie onder agente gelok.
Die resultate toon onder meer dat die tipiese SA agent tussen 35 en 55 jaar oud is (54%), getroud is en twee kinders het (72%), R13 000 of minder per maand verdien (54%) en kommissie met ‘n agentskap deel (74%).
Uitgereik deur die
Instituut van Eiendomsagente van SA
|