() 3 SEP 2009
Groter bekostigbaarheid en dalende pryse skep nou ‘n gulde geleentheid vir eerste kopers in die huismark.
En dr Willie Marais, nasionale president van die Instituut van Eiendomsagente (IEASA), sê dis ooglopend goeie nuus vir verkopers in ‘n mark waar aanbod die vraag oorskrei.
“Maar verkopers moet onthou dat nuwe toetreders tot die mark ‘n heel ander benadring tot huiskoop mag hê as meer gesoute kopers. Ervare kopers kan waarskynlik makliker onderliggende waarde raaksien en sal eiendom wat 'n bietjie opknapwerk vereis oorweeg as hulle oor die prys kan kibbel.
“En hoewel eerste kopers beslis ook na waarde – en selfs winskopies – soek, is hulle minder geneig om eiendom te koop wat baie opknapping vereis.
“Verkopers moet onthou dat eerste kopers gewoonlik voorheen verblyf gehuur het en dat hulle gewoond daaraan is dat huisbase enige onderhoudsprobleme hanteer. Die kanse is goed dat hulle min ervaring van onderhouds- of herstelwerk het en verkies om eiendom te koop wat in ‘n goeie toestand is.
“Met die heersende vereistes vir huisdeposito’s van die meeste verkopers is dit ook onwaarskynlik dat nuwe kopers spaargeld sal hê om eiendom op te knap of te herstel – en as hulle wel ‘n bietjie los kontant het, is dit waarskynlik dat hulle aanbod op ‘n huis wat werk verg baie laag sal wees.”
Terwyl behoorlike aanbieding van ‘n eiendom in die mark altyd belangrik is, is dit noodsaaklik indien eerste kopers geteiken word. “Dis ‘n redelike emosionele besluit om jou eerste huis te koop en dit is dus belangrik dat verkopers wat dié mark teiken hulle eiendom in die beste moontlike lig bemark.”
Aan die ander kant, maan Marais, moet verkopers nie voor die versoeking swig om groot bedrae aan opknapping te bestee nie. “’n Eiendom met ‘n nuwe kombuis of badkamer sal beslis aandag trek, maar dis onwaarskynlik dat verkopers so ‘n uitgawe in die heersende ekonomiese klimaat sal terugkry met die verkoop van die eiendom. Dis ‘n beter plan om seker te maak dat die huis netjies en skoon is en dat alle stelsels in perfekte werkende toestand is.”
|