() 27 AUG 2009
Die Instituut van Eiendomsagente (IEASA) verwelkom die nuus dat die Dienste Seta en die Raad op Eiendomsagentskapaangeleenthede (REAA) besig is om die strydbyl te begrawe – maar is diep bekommerd dat die beursskema vir agente wat die nuwe bedryfskwalifkasies wil bekom steeds in gedrang is.
Die Seta het verlede maand aangekondig dat dit besluit het om die beursskema vir agente wat die NQF4 en NQF5 kwalifikasies of sertifisering van vooraf verworwe kennis wil verwerf, opgehef is hangende die uitslag van onderhandelings om die dispuut tussen die Seta en die REEA by te lê.
Maar, sê IEASA se nasionale president dr Willie Marais, hoewel díe dispuut nou iets van die verlede is, is die beursskema nie weer ingestel nie en sal volgens ‘n gesamentlike aankondiging deur die Seta en die REAA opgehef bly totdat die doeltreffendheid daarvan “ten volle ge-evalueer” is.
“Kortom, daar bestaan tans geen geldelike bystand vir bestaande agente wat opleiding nodig het om die nuwe kwalifikasie te verwerf nie. Volgens wet moet agente dié kwalifikasies voor die einde van 2011 bekom – en baie van die agente wat nou gereed is om verdere opleiding te ontvang, word in die steek gelaat.”
Marais wys daarop dat die georganiseerde eiendomsbedryf die Departement van Handel en Nywerheid se nuwe opleidingsvereistes vir agente ten volle ondersteun aangesien dit tot beter diensstandaarde vir eiendomsverbruikers sal lei. “Ongelukkig is die regulasies minstens ‘n jaar te vroeg afgekondig aangesien die nodige voorbereiding nie in plek was nie – en steeds nie vir die NQF5 en NQF7 kwalifikasies afgehandel is nie.
“Die opleidingsvereistes plaas ongetwyfeld ‘n groot geldelike las op agente se skouers – wat veral in die heersende ekonomiese klimaat ‘n wesenlike probleem is. Die algehele rekening vir die opleiding van net die agente wat by die raad geregistreer is, word inderdaad op sowat R400m geraam.
“In die lig hiervan glo ons die beursskema moet onverwyld weer ingestel word – en soos tevore deur die heffings vir ontwikkeling van vaardighede, wat die eiendomsbedryf self steeds betaal, befonds word.”
Hy maan dat agente toenemend ontstoke is oor die “onmoontlike situasie” waarin hulle hulself nou bevind – en wys voorts daarop dat die bedryf nou deur IEASA so georganiseer is dat agente deur die strukture wat vir georganiseerde arbeid en sake geskep is, regmatig massa-optrede kan instel teen enigeen wat die normale funksionering van die bedryf belemmer.
|