Events





Contact us

Tel: (021) 531-3180
Fax: (021) 531-2931
Email: info@cape.ieasa.org.za
IEASA Western Cape
The Institute of Estate Agents of South Africa, Western Cape Region

IEASA Western Cape News

News from IEASA Western Cape

Basiese beginsels geld weer vir huiskopers

() 18 AUG 2009


Na afloop van die laaste oplewing in die eiendomsmark kan kopers vergewe word as die nuwe realisme in die mark hulle ietwat verwar.

Maar, sê dr Willie Marais, nasionale president van die Instituut vir Eiendomsagente (IEASA), dié realisme is nie regtig iets nuuts nie – dis inderwaarheid net ‘n terugkeer na die basiese “reëls” vir eiendom.

“Dit is ‘n terugkeer na bewese beginsels wat dikwels uit die oog verloor is tydens die jare van oplewing in die mark, toe krediet vryelik beskikbaar was, pryse soms binne ‘n paar jaar verdubbel het, en beleggers yslike winste binne ‘n relatief kort tydperk verdien het,” sê hy.

“Maar kopers word nou aangeraai om weer basiese beginsels in gedagte te hou wanneer hulle die eiendomsmark betree.”

Die eerste basiese beginsel bly om vir ‘n deposito te spaar, sê hy. “Dit sal nie net die maandelikse leningspaaiement en die bedrag wat oor die duur van die verband betaal moet word, verlaag nie, maar kopers kan heel moontlik meer gunstige rentekoerse beding as hulle ‘n aansienlike deposito kan aanbied.”

Die tweede beginsel wat dikwels tydens die oplewing uit die oog verloor is, is om nie te veel hooi op jou vurk te laai nie. Tydens die oplewing het kopers daarop gereken dat die groei in waarde vinnig die bedrag wat op die verband uitstaande is, sou verbyskiet.

Maar Marais maan dat dit nie meer outomaties die geval is nie en mense wat lenings aangaan moet die resessionëre ekonomiese siklus in gedagte hou wanneer hulle vir maandelikse terugbetalings begroot – en verkieslik moet hulle vir minder begroot as wat hulle werklik kan bekostig om beweegruimte vir onvoorsiene omstandighede te laat.

Korttermyn spekulasie is ‘n vinnige manier om jou vingers lelik te verbrand. Eiendomsbelegging was tradisioneel ‘n langtermynbelegging – en dit bly goeie raad, sê Marais. “Dis nie ‘n goeie idee om nou vinnige opbrengste uit die eiendomsmark te verwag nie – maar mense met langtermyn verwagtings wat nou koop kry die voordeel dat pryse nou in kopers se guns tel.”

Marais sê voorts kopers en verkopers moet seker maak dat hulle ‘n grondige kennis van hulle plaaslike eiendomsmarkte het. “Nasionale tendense is net ‘n vae aanduiding en is nie altyd op jou plaaslike mark van toepassing nie. Spesifieke kwessies wat plaaslike markte kan beïnvloed, sluit in die stand van die plaaslike arbeidsmark, plaaslike statistiek oor beslagleggings, prysbewegings, gemiddelde duur voordat eiendom verkoop word en die beskikbaarheid van nuwe voorraad in die mark,” sê hy.

Laastens bly “ligging” so belangrik soos voorheen. “Dit is steeds ‘n beter belegging om ‘n beskeie eiendom met ‘n goeie ligging te koop pleks van ‘n luukse huis met ‘n beskeie ligging.”

Kopers word ook gemaan om nie enige eiendom te koop voordat dit persoonlik geïnspekteer is nie. “Eiendom wat in nasionale koerante of glanstydskrifte geadverteer word, mag dalk met die eerste oogopslag na goeie beleggings lyk maar moet liewer self besoek word voordat ‘n aanbod gemaak word.

“Dieselfde beginsel geld ontwikkelings aan die kus of wat van die plan af bemark word. Kopers moet die perseel self besoek en planne en kontrakte noukeurig nagaan voordat hulle enige dokumente onderteken.”

 

 




copyright 2008 IEASA Western Cape | Real Estate Technology by Entegral | Admin Login